Jun 12 2009
(http://jv.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2529260,00.html)

Dit raak méér as net Kruger
Johann Tempelhoff

Een van die laaste herinneringe aan die Afrikaners se stryd om die behoud van politieke vryheid aan die einde van die 19de eeu is uit die openbare sfeer in Switserland verwyder.

Krügerstrasse, ’n straatnaam in die stad St. Gallen wat ruim honderd jaar gelede na pres. Paul Kruger genoem is, is pas hernoem na die Switserse skrywer en dramaturg Friedrich Dürrenmatt (1921-1990).

Die nuus het heelwat interna-sionale nuusdekking geniet. Die beriggewing dui daarop dat die omstredenheid wat sedert die begin van die 20ste eeu om die persoon van Kruger (1825-1904) bestaan het, steeds met ons is.

Kruger, Transvaalse republikeinse president, het ’n ruk lank in St. Gallen tuisgegaan nadat hy Suid-Afrika as balling tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) moes verlaat. Daarna het hy na Clarens, ook in Switserland, verhuis, waar hy in 1904 gesterf het.

Die naamsverandering is die resultaat van politieke druk wat sedert die 1980’s op die stadsraad uitgeoefen is. Aan die voorpunt was die anti-apartheidsbeweging van St. Gallen, ’n Franssprekende universiteitstad met sowat 160 000 inwoners.

Die ANC-aktivis Dulcie September (1935-1988) het St. Gallen in 1986 besoek. Sy was destyds besig met ’n ondersoek na die wapenhandel tussen die ou Suid-Afrikaanse regering en Frankryk. Twee jaar later is sy deur agente doodgeskiet wat glo in opdrag van die voormalige Suid-Afrikaanse regering gewerk het.

Die anti-apartheidsbeweging het in daardie tyd hard probeer om Krügerstrasse na Mandela-straat te laat verander. Die stadsraad het nie die voorstel gesteun nie omdat dié stad strate net na gestorwe mense noem.

Dat die stryd rof was, ly geen twyfel nie. Volgens die St. Galler Tagblatt was die rooi, handgeverfde naam “Mandelastrasse” in 2008 nog by die ingang van Krügerstrasse in die woonbuurt Lachen sigbaar.

Die wending het in Julie 2008 gekom toe daar in die stadsraad debat gevoer is oor die vernoeming van ’n straat na Kurt Furgler, ’n bekende inwoner wat kort tevore dood is. Krügerstrasse het prominent in die debat opgeduik en ’n herrie het oor die hernoeming van dié straat ontstaan.

Furgler het sy straat gekry, maar toe dit bekend word dat die bedoeling oorspronklik was om die nuwe Furglerstraat na Dürrenmatt te noem, is besluit dat Krügerstrasse aan Dürrenmatt toegeken moes word.

Emosies het hoog opgevlam. Só het me. Lisa Etter-Steinlin van die middel-linkse Sosiaal-Demokratiese Party (SP) byvoorbeeld gesê daar behoort ’n verklarende beskrywing tot Krügerstrasse toegevoeg te word waarin aangedui word dat Kruger vir apartheid en rassisme gestaan het.

Die stadsraad het in Oktober 2008 – die maand van Kruger se verjaardag – finaal besluit die naamsverandering gaan voort, hoewel onafhanklike peilings daarop gedui het dat veral Lachen se inwoners die behoud van Kruger se naam verkies.

Die stadsraad het in ’n verklaring Kruger se naam in verband met die onderdrukking van swart mense verbind. Dit het tot tweespalt in die gemeenskap gelei.

Die St. Galler Tagblatt het in dié tyd ’n ander diskoers om die Krugergesprek aan die gang gesit. In ’n lang berig in die koerant is geskryf oor die ikoniese Krugerrand waarvan daar sedert 1967 al 100 miljoen muntstukke wêreldwyd verkoop is. Switserland, het die berig uitgewys, is steeds een van die grootste kopers van Krugerrande.

Die kwessie van Krügerstrasse se naamsverandering het só omstrede in Switserland geraak dat die Berner Zeitung begin vanjaar self gaan kyk het wat in St. Gallen aan die gang is. Mnr. Theo Buff, voorsitter van St. Gallen se straatnaamkommissie, het die twis vir en teen Krügerstrasse in dié koerant as “raar en raaiselagtig” bestempel.

In Januarie vanjaar het prof. Yvo Hangartner, ’n afgetrede professor in staatsreg, in die St. Galler Tagblatt gemaan teen “blindelingse ywer om straatname te verander” en gesê Kruger moet beskou word in die konteks van ’n militêre leier van die Boere en president van die Transvaalse Republiek wat ’n oorlog teen die magtige Britse Ryk gevoer het.

Om Kruger as rassis te etiketteer, was volgens hom onvanpas. Hangartner het daarop gewys dat toe Kruger president was, daar in die ganse Europa, selfs ook Noord-Amerika, ’n soortgelyke vorm van rassevooroordeel was. Daarom, het hy gesê, is dit belangriker om van Kruger se simboliese waarde kennis te neem: Hy moet beskou word as die simbool van ’n klein volk in Afrika wat deur ’n reuse-oormag bedreig is. Net soos die teenswoordige Tibet was die Boererepubliek van weleer in ’n stryd gewikkel om sy identiteit teen ’n groot oormag te behou.

Verskeie inwoners het in briewe aan die dagblad gereageer. Mnr. Otto Köppel, wat homself ’n “oer-inwoner van St. Gallen” noem, het te velde getrek teen wat hy bestempel het as ’n stadsraad sonder “historiese spore”.

Me. Esther Schäpper het geskryf Kruger was g’n rassis nie en die naamsverandering is “werklik absurd”. Volgens haar kon die geld vir die naamsverandering heelwat beter bestee word op ’n gemeenskapsinisiatief in Suid-Afrika.

Die meerderheid van Lachen se inwonersvereniging het in Februarie vanjaar aangedui hulle is steeds ten gunste van die behoud van Krügerstrasse. Die vereniging se president, mnr. Pius Jud, het ’n boikot van die stadsraad in die vooruitsig gestel.

Die stadsraad het egter voet by stuk gehou en me. Claudia Buss, raadslid van die Groenparty, het gesê die wonde van apartheid is nog rou. Me. Cornel Rüst Känzeli, ’n inwoner, het Buss in ’n brief aan die koerant gesteun en gesê sy het bedenkinge oor die “aard van die vryheid” waarvoor Kruger geveg het.

Sy het daarop gesinspeel dat die Boere onder die Britse bewind uit getrek het sodat hulle hul aktiwiteite van “slawerny” buite die grense van die Kaapkolonie kon voortsit.

Teen Mei 2009 het die Lachen-inwonersvereniging klaarblyklik van mening verander. Hul voorgestelde boikot is teruggetrek en hulle het gesê hulle sou saam met lede van die destydse anti-apartheidsbeweging ’n geselligheid bywoon waar ’n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse ambassade deur die stadsraad onthaal sou word.

By dié geleentheid die afgelope Maandag het me. Elizabeth Beéry, wat destyds aan die stuur van die plaaslike anti-apartheidsbeweging was, ’n ou Krügerstrasse-naambord aan mnr. Solomon Tshivula van die Suid-Afrikaanse ambassade in Switserland oorhandig. Dit is glo bestem vir ’n Suid-Afrikaanse museum.

In sy toespraak het Tshivula gesê St. Gallen se gebaar dui op waardering vir die opofferings wat in die stryd teen apartheid gemaak is. Hoewel bepaalde naamsveranderinge in Suid-Afrika aan die orde is, het hy gesê daar is tog name wat Suid-Afrikaners vir hulself toegeëien het. Hy het die voorbeeld van die Nasionale Krugerwildtuin genoem.

Het die stof in St. Gallen gaan lê? Dit is onseker. Volgens die media is daar steeds mense, veral in Lachen, wat ontevrede is met die naamsverandering.

Met bostaande as agtergrond, die volgende perspektiewe:

In ooreenstemming met die hermeneutiese verstaansmetode wat historici gebruik om kwalitatiewe geheelindrukke te vorm, is dit sinloos om ’n interpretasie van die eietyd op die verlede te projekteer om nommerpas-aannames omtrent die hede te maak. Daaruit kan ’n Babelse verwarring ontstaan.

Die naamsverandering in St. Gallen vertel die verhaal van historiese dekonstruksie wat op mistastings berus en nouliks weer herstel kan word.

Uit ’n analise van sommige van die webwerwe waar die naamsverandering in die kollig was, wil dit voorkom asof voorstanders van die raadsbesluit in die algemeen as “liberale” bestempel kan word. Teenstanders van die naamsverandering vertoon ’n “regse” of konserwatiewe ingesteldheid.

Dit is onwaarskynlik dat daar ’n groot nie-ideologiese belangstelling in die gebeure is. ’n Kletsgroep van ene Tia-Mysoa wat op 3 Junie 2009 begin is, het ’n week later nog geen gesprek uitgelok nie.

Die afleiding kan gemaak word dat daar waarskynlik behoefte is aan ’n meer kontemporêre historiese voorstelling van die Afrikaners wat gebruikersvriendelik en toeganklik is vir mense in alle wêrelddele.

Laastens blyk dit dat daar in sommige samelewings steeds mense is wat Afrikaners uitsluitlik met die negatiewe dinge van die 20ste eeu verbind. Dit hou bepaalde gevare in.

’n Voorbeeld is die wit Rhodesiërs wat die destydse bewind van mnr. Ian Smith in 1965-1979 gesteun het. Terwyl min mense in die buiteland tans ’n goeie woord vir die huidige Zimbabwiese bewind het, is daar nietemin ’n onwilligheid om na die verlede terug te gryp.

Die historiese bewussyn om ’n “gunstige” herevaluering van die destydse wit bewindhebbers van Zimbabwe in die openbare sfeer te maak, bestaan tans eenvoudig nie.

Dieselfde kan moontlik in die toekoms gebeur wat betref historiese perspektiewe oor Kruger en die Afrikaners in Suid-Afrika.

Prof. Johann Tempelhoff is verbonde aan die Skool vir Basiese Wetenskappe op die Vaaldriehoek-kampus van die Noordwes-Universiteit.